Vertaling as kompulsiewe spel

Oorspronkelijke auteur: 
Tommy Wieringa
Oorspronkelijke titel: 
Joe Speedboot
Vertaler: 
Zandra Bezuidenhout

 

Introductie: 

Uit ʼn akademiese perspektief bestaan daar vele vertaalteorieë en -benaderings – die een so insiggewend soos die ander, en elkeen bruikbaar binne ʼn bepaalde konteks. Maar om te vertaal, beteken eintlik maar net een ding: Om in die skrywer se kop te klim en sy teks so getrou moontlik in die doeltaal weer te gee. Maar hoe gebeur dit, en wanneer slaag dit?

Vertaling: 

Niefiksie-tekste, veral as dit goed geskryf is, lewer weinig probleme op. Hoewel die register en idiomatiese aanslag van die bronteks in ag geneem moet word, werk die vertaler uiteraard met feitemateriaal wat, globaal gesien, nie veel interpretasie verg nie. Uiteraard is daar die gewone kwota naslaanwerk om die juiste terminologie in die doeltaal op te spoor, maar afgesien daarvan kan so ʼn teks relatief vinnig afgehandel word, temeer nog as die materiaal jou interesseer. Met die Afrikaanse vertaling van Rigtingbedonnerd, in die Nederlands uitgegee as Afrikaners – een volk op drift (beide het in 2012 verskyn) het die joernalis Fred de Vries se prikkelende verslag oor sy kennismaking met Afrikaner-tipes en die veelkantige visie op hul toekoms my so geboei dat ek my slegs met moeite van die vertaalarbeid kon losskeur. Dit is inderdaad ʼn bonus as die vertaler hom of haar met die inhoud van die teks kan vereenselwig, en bowendien die styl en toon so geniet, dat die vertaling ʼn kompulsiewe spel word.

Die vertaling van Tommy Wieringa se roman Joe Speedboot  (in Afrikaans 2012) het, tipies van ʼn literêre kunswerk, eiesoortige eise gestel en veel langsamer verloop. Hier was die grootste uitdaging om reg te laat geskied aan Wieringa se stilistiese vernuf waarmee hy die oorspronklike teks en onderliggende subteks aanbied. Terselfdertyd moes die eiesoortige Nederlandse leefwêreld, situasies en mensetipes bewaar bly, en dus ʼn mate van “vreemdheid” behou terwyl dit in die doeltaal gestalte kry. Tog moes die Afrikaanse weergawe vlot en gemaklik lees, maar dan nie ten koste van die outeur se eiesoortige stelwyse en fyn nuanseringe nie. Dit was ʼn tydrowende, maar hoogs bevredigende proses om Wieringa se styl in idiomatiese Afrikaans sigbaar te maak. Praat van keuses en besluite! Die avontuur was om opnuut te ontdek hoe ryk die moontlikhede van taal is, hoe naby sekere segswyses in een taal aan mekaar lê, of hoe ver van mekaar wat betekenis, gevoelswaarde en implikasie betref, en hoe gevaarlik dit kan word as die vertaler te meegevoer raak. Want ook hier het sowel die inhoud as die styl van die boek vir my ʼn buitengewone bekoring ingehou.

Reflectie: 

Die kernvraag by die vertaling van ʼn literêre teks bly dié rondom kreatiwiteit. Vertalers wat self tekste produseer, kan alte maklik verlei word om té innoverend te vertaal – dalk net ʼn aks te poëties of emosioneel gelade; te nugter, of selfs te spreektalig-idiomaties om naatloos met die oorspronklike outeur se skeppingswerk saam te val. Dit is waarom literêre vertaling soveel tyd in beslag neem, want die vertaler se gesonde selfkritiek loop soms uit op ʼn totale impasse wanneer die een na die ander moontlikheid geweeg en te lig (of te swaar!) bevind word. Dan maar weer terug na die tekenbord, na nóg woordeboeke, nóg ʼn tikkie verbeelding of intuïtiewe aanvoeling, en na die soveelste herlesing en herskrywing. Tog bly hierdie sug na ultieme verfyning ʼn verslawende bedryf – ʼn solipsistiese dobbelspel van die eerste rang.