Ek is g'n slams

Type: 
Historische en streekromans
Auteur: 
Fatima

Op die oppervlak is Ek is g’n Slams die storie van ‘n Indiese Moslemmeisie wat in die sestiger- en sewentigerjare in die destydse Distrik Ses grootword en haar pad in die groter Suid-Afrikaanse samelewing probeer vind. Dit is egter veel meer as die lewensverhaal van ‘n gefolterde siel wat sukkel om haar plek in die wêreld te vind.

 

Op ‘n dieper vlak is Ek is g’n Slams ‘n uitroep om erkenning van menswaardigheid en individualiteit en die reg om onafhanklik te dink van vroue nie net in die Suid-Afrikaanse konteks nie, maar oral waar vroue steeds misken en onderdruk word. Die titel dui op die skeldnaam Slamaaier wat vroeër algemeen vir Moslems gebruik is sonder dat die gebruikers noodwendig besef het hoe negatief dit ervaar word. Dit sou netsowel vervang kan word deur een van die ander welbekende woorde wat voorheen gebruik is om verskillende bevolkingsgroepe aan te dui. Fatima se verhaal is waarskynlik tekenend van die verhale van baie vroue uit verskillende bevolkingsgroepe. Die feit dat haar naam op die voorblad slegs as Fatima aangedui word, terwyl haar van wel elders in die boek genoem word, beklemtoon die feit dat hierdie die verhaal van vele vroue kan wees.

 

Lewe in Distrik Ses

Ek is g’n Slams is egter geensins ‘n geween en gekners van tande oor die lot van onderdrukte vroue nie. Nee, Fatima vertel haar verhaal in die pragtigste Afrikaans – aangevul met welluidende stukke Kaapse Afrikaans – en met humor, dikwels ook ten koste van haarself. Die lewe in Distrik Ses word in kleur en geur geskets, deurspek met lewensgetroue karakters en omgewe van die geure van die Kaapse kookkuns en die gevoel van gemeenskap wat in die buurt geheers het. Die godsdiensbeoefening en rituele van die Moslemgemeenskap word in betowerende detail geteken en die leser kom onder die indruk van die samebindende krag daarvan. Tafelberg, die Kaapse middestad en die hawe is ook ‘n voortdurende teenwoordigheid in die karakters se lewens en mens kan die gemis aanvoel wanneer die inwoners van Distrik Ses onder die Groepsgebiedewet verskuif word na nuwe, karakterlose wooonbuurte op die Kaapse Vlakte. Distrik Ses word egter nie as hemel op aarde geskets nie, maar as die arm buurt wat dit was, met heelwat misdaad en bedenklike karakters wat op elke moontlike manier kos op die tafel probeer kry. Die gevoel van behoort wat daar geheers het, gee mens egter ‘n idee van die ontwrigting en ontheemding wat die gedwonge verskuiwings in soveel gemeenskappe tot gevolg gehad het.

Fatima se grootwordjare binne ‘n oënskynlik hegte gesin word in wonderlike detail geskets. Onder die oppervlak is ‘n pa wie se woord absoluut wet is, ‘n ma wat klaarblyklik in haar rol berus het en reageer met ‘n verskeidenheid neuroses en angstighede, dogters van wie absolute gehoorsaamheid en absolute seksuele reinheid (terwyl hulle geen leiding kry oor wat seksualiteit is en wat werklik verbode is nie) vereis word en seuns wat veel meer vryheid geniet bloot omdat hulle manlik is.

Fatima se groot probleem in die lewe is dat sy dink en daarby onafhanklik dink. Sy bevraagteken dinge, sy wil meer weet, sy wil weet hoekom sekere dinge bloot deur almal aanvaar word. Sy sien ongeregtigheid raak, sy sien raak dat godsdiens nie altyd goeie mense van die beoefenaars daarvan maak nie, sy kan nie die onverdraagsaamheid in die naam van geloof tussen verskillende groepe verstaan nie.

Fatima dink nie net nie, sy spreek toenemend haar bedenkinge uit. Hierdeur bring sy nie alleen vir haarself moeilikheid nie, maar versteur sy die ritme van die gesin en hulle rol in die samelewing en bring sy die ander lede se eie vrese en frustrasies ook na vore. Sy soek voortdurend na meer vryheid, na iets om haarself buite die beperkinge te identifiseer en daardeur bring sy hoofsaaklik negatiewe aandag na haarself. Dis opmerklik dat sy tydens die opstande in 1976 as tiener vir die eerste keer werklik lewend voel en voel dat sy ‘n rol te speel het.

 

Lot in eie hand

Mettertyd besef sy dat haar enigste kans vir ontsnapping is deur die tradisionale weg, dié van die huwelik. Uiteraard is sy nie te vinde vir die gereëlde huwelike wat die norm is nie en doen sy haar bes – en slaag – om potensiële eggenotes wat haar pa huis toe bring, die skrik op die lyf te jaag. ‘n Bykomende probleem is dat sy nie in die gewone sin van die woord so mooi is soos haar suster en soos die tradisionele beeld van ‘n Indiërmeisie is nie. Sy is oorgewig en bekkig – nie ‘n goeie belegging as vrou in ‘n konserwatiewe gemeenskap nie. Getrou aan haar aard neem sy haar lot in haar eie hande, stel haar visier op ‘n geskikte kandidaat –in haar eie oë – ignoreer haar broers se waarskuwings en trou met die man van haar keuse.

Onvermydelik lê daar vir haar ontnugtering voor, asook die hel van haar klaarblyklike kinderloosheid in ‘n gemeenskap waar die vrou se waarde steeds tot ‘n groot mate gemeet word aan haar vermoë om gesonde kinders – en verkieslik seuns – in die wêreld te bring. Telkens neem sy haar en haar gesin se lot in eie hande en stuur hulle uiteindelik die groter Suid-Afrikaanse samelewing binne, buite die beskermende strukture van haar uitgebreide familie. Geleidelik toon haar oënskynlik verligte man al hoe meer behoudende karaktertrekke en word hy al hoe meer outoritêr, terwyl haar input in haar eie lewe steeds meer en meer beperk word.

Verskeie ander temas word in die verhaal aangeraak. Die stryd van oorgewig vroue om maer te word en/of vrede met hul liggame te maak, die talle slaggate en uitdagings van die sakewêreld, die stryd van die kinderlose vrou en die vervulling en vreugde wat kinders selfs in ‘n nie-volmaakte huwelik bring, die ontdekking van raakpunte met gelowiges uit ander groepe, die vooroordele en mededoë van verskillende rassegroepe teenoor mekaar, die stryd met depressie, die soeke na sin in die lewe en uiteindelik die onuitwisbare waarde van familiebande en -lojaliteit word vervleg deur die daaglikse gang van Fatima se lewe en maak die leser telkens bewus van die universele waarde van haar verhaal.

 

Erkenning as mens

Ek is g’n Slams is die uitroep van ‘n onderdrukte vrou – ja, selfs in ‘n moderne en demokratiese Suid-Afrika – om as méns erken te word, om toegelaat te word om haar eie keuses te maak en haar eie pad te loop. Dis ‘n uitroep wat wyd deur die wêreld kan resoneer. Daar is inderdaad vele Fatimas in vele gemeenskappe – en hulle dra nie noodwendig burkas nie. Hulle kan brandmaer wees in jeans en gekleurde hare, oënskynlik ver van die beperkende magte van godsdiens en tradisie, maar steeds ‘n stryd voer om as onafhanklike, eiesoortige méns erken te word.

Hierdie leser wens dat Fatima se verhaal in vele tale oor die wêreld versprei kan word en dat vele Fatimas in vele gemeenskappe deur haar verhaal geïnspireeer sal word.

 

Oor die resensent: 

Alta Cloete is ‘n Bolandse skrywer van romantiese en inspirerende fiksie. Ongeveer vyftig tydskrifverhale asook tien romanses en vyf liefdesromans het al uit haar pen verskyn. Aangesien sy op amper vyftig eers werklik begin skryf het, hoop sy om tot minstens tagtig te kan aanhou. Wanneer sy nie skryf of na kinders oorsee verlang nie, probeer sy Afrikaanse boeke op die internet en sosiale media bevorder. Alta Cloete beheer die Facebook-blad 'Kom ons lees weer Afrikaans' en sy het ook haar eie blog: http://www.altacloete.wordpress.com/. Vir meer inligting oor haar gepubliseerde romans en verhale, kyk op: https://www.goodreads.com/author/show/6472211.Alta_Cloete.