Skuldig

Type: 
Spanningsverhalen
Auteur: 
Martin Steyn

deur Anne-Marie Taylor

 

Adjudant Colin Menck is die ondersoekbeampte van ‘n moord waar ‘n middeljarige tandarts in sy sitkamer tereggestel is, klaarblyklik nadat hy die word "skuldig" in sy eie bloed teen ‘n muur moes skryf. Dit lyk soos ‘n professionele moordenaar se werk. Die enigste moontlike verdagte is sy vrou, wat duidelik nie meer veel liefde vir hom oorgehad het nie.

Skaars ‘n week later is daar nog ‘n slagoffer, nog ‘n keer "skuldig" in bloed teen die muur. Nog ‘n ongelukkige vrou – hierdie keer die man se gewese vrou. Het hierdie ontevrede vroue / eks-vroue saamgespan en ‘n moordenaar gehuur? Hoeveel name is daar nog op die moordenaar se lysie?

 

Dit is die vrae wat die leser vasgryp in Martin Steyn se nuwe boek, Skuldig.

In Skuldig is Menck die senior ondersoekbeampte, nadat sy vorige kollega, Magson, die diens verlaat het. Menck sukkel om hieraan gewoond te raak. Hy jel ook nog nie lekker met sy nuwe, jonger kollega, Winters, nie en dié twee skaaf soms sleg aan mekaar. Winters is oorgeplaas vanaf die Robertson-speurtak en wil homself baie graag bewys in die spesialiseenheid.

 

'n Dun lyn

Waarvan het ek die meeste gehou?

Die verhaal speel in die Kaap af, baie naby aan waar ek huis noem. Dis lekker om van bekende plekke te lees en maak die prent in jou kop makliker.

Steyn gee vir ons ‘n slag ‘n polisieman sonder “issues”. Menck suip nie, hy is nie geskei nie en het ook nie huweliksprobleme nie, hy is ook nie korrup nie. Hy is egter ook net ‘n mens en hy besef elke mens het ‘n donker kant. Hy worstel met die wete dat die wet nie altyd geregtigheid vir die slagoffer waarborg nie en sy liefde vir sy vrou en kinders maak hom kwesbaar.

Winters, daarenteen, is ongetroud en bly saam met sy sussie. Hy is nog jonk en voortvarend en glo dinge is net swart of wit. Hy wonder of die mens goed gebore word of moet iemand jou leer. As leser het ek heeltyd die gevoel gehad dat daar meer aan Winters is as wat mens op die oppervlak lees. Dat selfs Steyn nog besig is om sy karakter te leer ken. Ek vermoed vorentoe gaan ons Winters beter leer ken, veral met die slot van Skuldig in gedagte. Ek sien uit daarna, want Winters kruip ook onder mens se vel in.

Uiteindelik, met die lees van Skuldig se laaste bladsy, het ek gewonder of ek nie dalk dieselfde sou doen as die moordenaar nie, want Steyn wys vir ons hoe dun die lyn eintlik is tussen reg en verkeerd, tussen wraak en geregtigheid. En dat geregtigheid in ons kreupel wêreld soms ‘n klap in die gesig van die slagoffer is.

 

Oor die skrywer

Martin Steyn is in Goodwood gebore en het in Somerset-Wes grootgeword. Hy matrikuleer aan Hoërskool Hottentots-Holland en studeer sielkunde en kriminologie deur Unisa. Hy voltooi die skryf-’n-roman-kursus onder Wilna Adriaanse en dis waar sy eerste boek, Donker Spoor, sy ontstaan kry.

Hyself lees Stephen King, Marita van der Vyver, Tana French, Jodi Picoult, Chanette Paul, Henning Mankell, Isa Konrad en Jo Nesbo.

Skuldig volg nie noodwendig op sy debuutroman, Donker Spoor, nie, maar my opinie is dat dit beter sal wees om eers Donker Spoor te lees – dit gee jou ‘n agtergrond van die karakters wat weer voorkom in Skuldig.

Ek het egter eers Skuldig gelees, terwyl Donker Spoor nou al hoe lank op my rak staan, ongelees. Maar beslis nie vir baie langer nie. Martin Steyn het ‘n nuwe bewonderaar. Die uwe. En ek wil my verstout om te sê Deon Meyer, onder andere, moet maar oor sy skouer begin loer. Steyn het gekom om te bly.