Prooi

Type: 
Spanningsverhalen
Auteur: 
Fanie Viljoen

Fanie Viljoen se eerste volwasse roman nie vir sissies nie

 

deur Anne-Marie Taylor

 

Prooi, die eerste volwasse roman van Fanie Viljoen, speel af in Kaapstad. Dit gaan oor die donker kant van die stad, waarvan meeste van ons “gewone”mense nie eers bewus is nie en heelwaarskynlik ook nooit self sal ervaar nie. Ek sal seker naïef wees as ek dink dis te erg om werklik te bestaan.

Daar is drank- en dwelmpartytjies, hokgevegte tussen mans, ‘n geheime nagklub en seksfantasieë wat jou hare sal laat rys. Maar ook jong mense met drome, met selfbeeld probleme en met hul eie hartseer.

Die storielyn is basies oor ‘n liefdesdriehoek tussen Owen Jooste, Lauren Cooper en Cody Young. Met ‘n ouer vrou, Diana, op die agtergrond.

Owen Jooste werk soms as uitsmyter by nagklubs, om geld te verdien. Maar sy eintlike droom is om die beste hokvegter te word en so groot geld te maak. Ryk en beroemd te word. Owen het ‘n vinnige humeur en glo hy kan alles met sy vuiste reg slaan. In die veghok is hy dan ook inderdaad baie goed daarmee en daar lê ‘n blink toekoms voor vir hom. Hy is nie bang nie en in die hok kry hy kans om al sy onderliggende aggressie te laat uitkom, veral sy woede teenoor sy arm, platvloerse ouers, selfs al wil hy eintlik hê dat hulle moet trots wees op hom. In die veghok is Owen ‘n baie gevaarlike teenstander.

Owen is vir my die tipiese aantreklike “hunk” wat net nie te veel moet praat nie, want sy IK is beslis nie sy sterk punt nie. Voljoen kry dit egter reg om die leser een oomblik van Owen te laat hou, omdat hy sy goeie en sagte kant wys en net die volgende oomblik te dink hy is die tipe man waarteen alle ma’s hul dogters moet waarsku, ernstig waarsku. Ek was heeltyd in konflik oor hoe ek nou eintlik oor Owen voel.

Owen se meisie is Lauren Cooper. Sy is baie mooi, effens wild en het ‘n houding. Sy is duidelik heelwat meer intelligent as Owen, maar sy aantreklikheid en sy rofheid trek haar aan. Sy sukkel ook met haar eie spoke en is doelbewus op ‘n pad van selfvernietiging. Sy voel soms Owen versmoor haar en het ook al sy besitlike, woedebuie aan eie lyf ervaar.

Dan is daar Cody Young. Hy is ‘n verwaande seksjagter wat meisies gebruik en misbruik, terwyl hy self soek na die sin van sy lewe. Cody het my naderhand tot satwordens verveel. Hy is nie veel meer as ‘n leë blik nie en selfs die paar keer wat die skrywer ‘n anderkant van hom probeer skets deur sy interaksie met sy ma, het dit my nie regtig oortuig nie. Ek wonder of daar werklik ouens soos Cody bestaan – wat amper elke liewe meisie deurdraf waarin hy belangstel. En ook nooit sukkel om die meisie in die bed, kas, aantrekhokkie of waar ookal, te kry nie. Cody is ook verhewe bo ‘n alledaagse werk en verdien geld op ander interessante maniere. Minder kuis maniere.

Dalk kom wysheid oor gladde bekke met die jare, maar Cody sou my selfs as jongmeisie geheel en al afgesit het met sy cliché-agtige benadering tot meisies. Ek haal ‘n stukkie aan uit die boek – en ek dink dis seker een van die lamlendigste maniere wat hy hier gebruik om ‘n meisie op te tel.

“Dis onvermydelik,” sê Cody.

“Wat is onvermydelik?” vra sy.

“Dat ons twee met mekaar sal praat. Dat ek vir jou sal sê my naam is Cody Young. En jy sal vir my sê jou naam is… ?”

“Ilze Marx,” antwoord sy byna gehipnotiseerd.

Regtig?

Dinge tussen Owen en Lauren is aan en af en dan gaan sy een aand saam met haar vriendinne uit en loop vir Cody Young raak. Dit kos nie veel verbeelding om die res te voorspel nie.

Dan is daar natuurlik ook Diana. Sy besit die geheime nagklub in Kaapstad waarvan geen gewone mens bewus is nie. Net uitverkorenes weet waar dit is en is welkom daar. Sy is stinkryk en het baie mag. Diana trek ‘n hele paar toue in Cody se lewe en uiteindelik raak Owen en Lauren ook verstrengel in hierdie toue, want wat Diana eintlik wil hê, is Cody. Vir haarself, permanent.

Die einde is voorspelbaar, maar tog ook nie heeltemal wat mens verwag of vermoed het nie.

Fanie Viljoen het bekend geraak as skrywer van jeugfiksie. Prooi was aanvanklik ook bedoel as ‘n jeugroman, maar omdat dit ‘n bietjie wild raak, is hy aangeraai om dit eerder as volwasse roman te laat publiseer.

Dalk sou Prooi tog beter gewerk het as jeugroman, jongmense weet immers deesdae meer van alles af as meeste volwassenes. Ek vermoed hulle sou dalk geensins geskok gewees het deur Cody se manewales of Diana se geheime nagklub en wat daar aangaan nie.

Ek het nog nie Fanie Viljoen se jeugboeke gelees nie, maar het net goeie resensies daaroor gelees. Prooi het egter nie heeltemal vir my gewerk nie, en ek lees beide volwasse romans en jeugromans. Die karakters in Prooi voel vir my onafgewerk, plat, geforseerd.

Prooi word ‘n spanningsroman of sielkundige riller genoem. Die verhaal het my op geen stadium laat hart vashou oor wat volgende gaan gebeur nie. Ek het net gelees om klaar te lees.

Die titel van die boek is wel vir my baie gepas, want elkeen van die hoofkarakters is die prooi van sy / haar eie dade. Cody is die prooi van sy eie gesoek na iemand wat die leë kol in hom sal vol maak. Hy dink dis Lauren, maar geen mens kan ‘n ander mens werklik heelmaak nie – dit moet van binne kom. Sal Cody dit ooit leer?

Lauren is die prooi van haar eie selfvernietigende gedrag. Sy voel nikswerd, omdat sy nie soos haar suster is nie, voorbeeldig en haar ma se witbroodjie. Daarom jag sy gevaar na en besef nie dat sy haarself uiteindelik daarteen te pletter gaan loop nie. Lauren se optrede het my eintlik die diepste geraak, want daar is soveel meisies daar buite wat, net soos sy, dink net ‘n man kan hulle eiewaarde gee.

Owen is die prooi van sy eie woede, sy minderwaardige gevoel oor waar en hoe hy grootgeword het. En net sy vuiste laat hom baas voel, maar uiteindelik kan dit hom ook vernietig.

Prooi sal vir seker verskillende reaksies by verskillende mense veroorsaak. Dis rou en rof en nie vir “sissies” nie. Dis eintlik ‘n donker boek oor die donker in die mens se siel.  Ek dink, of vermoed, dat die boek meer sal spreek tot die jonger volwassene, dié wie nog onthou hoe verskriklik dramaties mens se tienerjare kan wees en hoe angswekkend die oorgang tot volwassenheid soms kan raak.

Viljoen het ‘n meningsopname onder lesers gehou en so is Prooi se treffende voorblad deur lesers self uitgekies.

Die skrywer se jeugboek Onderwêreld is van volgende jaar ‘n verpligte voorgeskrewe werk vir Afrikaanse graad 12’s. Sy jeugboek Betower is vir graad 10’s met Afrikaans as bykomende taal voorgeskryf. Daar is ook onderhandelings om Uit te verfilm, in die pyplyn.

Viljoen het al meer as 30 kinder- en jeugverhale geskryf, waarvan ‘n hele paar literêre pryse gewen het. Ek is spyt dat Prooi die eerste boek van hom is wat ek lees, want dit was beslis nie my beste leeservaring nie. Ek is egter van plan om van sy jeugfiksie te lees, want ek glo hy is ‘n goeie skrywer.